‘ANC-gedrewe plaasmoorde’, ‘wit volksmoord’ en ander mites..

Posted on December 9, 2010

5


Laat ek net een ding uit die weg ruim:  ek gaan nie op my blog, nog spasie mors op rassistiese Afrikaanse celebs nie. Hulle het hul eie audiences, wat vir hulle boost. Ek wil eerder iets sê oor die kwessie van plaasmoorde, misdaad en die mite dat daar vanaf die huidige Suid Afrikaanse regering of ten ministe die ANC of hul jeugleier, Julius Malema, ‘n sinistêre sameswering is om stelselmatig wit boere en hul gesinne, uit te moor.

My standpunt is dat hierdie nie bloot ‘n onskuldige mite is wat deur onkundiges versprei word nie. Ons het hier te doen met die uitwas van ‘n kwaadwillige, rassistiese ideologie wat ten diepste iets wil sê oor hoe swart mense gesien (moet) word en geprojekteer moet word. Swart mense is volgens hierdie ideologie, per definisie uitgelewer aan hulle drange, bloeddorstig, geweldadig en boos. Wit mense daarenteen is soos die duiwe; hulle is weerloos, rein en vredeliewende slagoffers op die plaas, wat een vir een deur die bose swart mense uitgemoor word. Dis die ou swart gevaar denkwyse en dit word in magsinstellings van ons tyd, bv media, invloedryke kunstenaars en ander skrywers en kommentators aangeblaas om ‘n bepaalde klimaat in die land te skep. Onthou nou, hierdie is nie bloot ‘n urbanlegend in magtelose gemeenskappe nie, dis ‘n persistent storie wat keer op keer herhaal en deur die media versprei word-of dit nou die tradisionele of social media is.  Dis mense met mag, geld en toegang tot media wat op hierdie wyse, ‘n bepaalde skewe beeld van Suid Afrika,  instand hou. Maar meer nog, hierdie strategie buit die reële behoeftes van alle redelike Suid Afrikaners uit en teer op die brute pyn van ons gebroke samelewing.

Laat ek dus iets sê oor die reële behoeftes.  Wit boere en hul families op plase is inderdaad kwesbaar en sagte teikens vir misdaad, en hulle het inderdaad werklike behoefte aan veiligheid en beskerming deur die staat.  So egter, word ook jong swart kinders en vrouens wat huistoe loop in die aand na skool of werk, gesien as sagte teikens deur gewetenlose misdadigers. Wat maak dan die moord van ‘n wit boer meer werd, meer skokkend, as die moord op ‘n swart vrou?  Niks, sou ons almal toegee. Wat is egter die verskil?  Hierdie boer se moord staan op die voorblad van Die Beeld en word ‘n cause.  En nou, wat van die moord van die swart vrou, die huishulp ? Sy is ‘n onbekende statistiek. Who cares ?

Maar kom ons vat dit ‘n stappie dieper. Kom ons erken, die ander issue is dat in hierdie beeld, die polisie beskou word as hopeloos, wanneer dit kom by die bekamping van misdaad. Of beter gestel, na 1994, word die Polisie gesien as hopeloos. Ons weet almal mos hoe ‘effektief’ die polisiemag in die 80s was.  Waarom is hulle nou skielik hopeloos ? Die antw:  regstellende aksie en die aanstelling van swartes in die bestuursposte.

Dis hierdie tipes van denkwyses, wat maak dat die werklike behoeftes van hierdie kwesbare mense nie aangespreek word nie. Die mense wat hierdie drogbeeelde instandhou, verkies uit eindelik, ‘n onbevoegde staat en polisie, ten einde hul ideologie, te vindicate. Ander egter, wil iets konkreet doen. Hulle ondersteun die polisie en staat, hulle ondersteun die slagoffers van geweld en misdaad.  hulle sê dat ons almal moet saamwerk om die polisie se hande te sterk. Ja, ons moet hulle accountable hou vir hul werk, maar meer nog: ons moet nooit die leuen glo dat die moord van die arme, die weerlose minder werd is as die dood van die grondbesitter en sy gesin nie. Ons moet nooit die leuen glo dat sommige mense meer werd is as ander nie. Want as ons dit glo, dan is die volgende stap, dat ons geredelik, die een kan uitwis ten koste van die ander, of ten minste ons lippe aflek, as iets afgrysliks soos dit gebeur. Die meeste van ons wil moue op rol en hier ‘n verskil maak, om die mites dood te werk en te leef.