Om dinge reg te stel…van ‘n Mara Louw fan

Posted on Januarie 22, 2011

3


Toe die storie uitkom van Mara Louw want haar uitgespreek het oor rassisme in Idols, het ek begin om hierdie post te skryf. Ek het dit nie gepublish nie. Maar noudat MNET haar gefire het en Unathi in haar plek, die swart plek, gesub het, druk ek nou die publish knoppie….here goes..

Mara was reg, maar Mara was ook nie reg nie.

Ek stem nie saam met diegene wat vir Mara afskiet, bloot omdat sy na die Idols deur ‘n rasbril kyk nie. Dit maak in elk geval, nie van haar ‘n rassis opsigself nie. Die feit van die saak is, ten minste in SA, is ons almal (ja ook die sg Bornfree generation!) geras. Dit maak ook nie van almal van ons, noodwendig rassiste nie. Of ons dit egter wil erken of herken, die werklikheid waarin ons leef, is skeefgetrek deur rassisme. M.a.w. rasvooroordeel is ingespan, met mag en mening, om ‘n rasvoordeel te skep en beskerm. Ons sit nou met die vrug van hierdie saad nl, ongelykheid, bitterheid, vrees, ens. Dit is waarna Mara verwys het. Om hierdie onding (Olifant in die sitkamer) te naam word gereeld afgemaak as ‘omgekeerde rassisme’.

Die kritiese vraag is nou, hoe maak ons saam hierdie ongelykheid reg ? Breed (grof)weg is daar verskillende kyke: Vir die wat bevoordeel is, is dit baie gerieflik deesdae om namens almal te verklaar dat rasse nie meer bestaan nie. Daar is eintlik  geen ongelykheid nie en Mara-hulle moet net ophou kerm en hul sokkies optrek. Ons sien mos nie meer die swart ellende raak nie. Die groot toets is egter hoe geskok ons reageer op wit kinders wat in wit shacks krepeer teenoor die derduisende snotneus swart kinders, in swart squatter camps, wat…. so ‘cute’ is. Inderdaad, ons denke en refleksreaksies, is geras en ons samelewing is skeefgetrek. So ja, kom ons wees eerlik, ons stemme is (in baie gevalle onbewustelik) gekleurd, en ja, die uitslae op MNet, is gewoonweg anders, as wat dit was, sou die program op SABC was. Vergelyk maar na die uitslae van ‘SA’s got talent’.

Miskien het ek nou al meeste van my (wit) lesers verloor. Miskien is dit OK, want nou is Mara in my visier, maar ook in die algemeen, swartes. Sy is ook tog verkeerd. Die feit dat swart deelnemers tot in die laaste rondes so sterk ge feature het sê tog ook dat daar ‘n sterk vote uitgekom het vir die swart deelnemers. Dit kan een of selfs twee dinge beteken: 1) baie voters irrespective van ras, het vir Loyd (en ander swart voters) gevote of 2) DSTV is klaar in baie swart huishoudings. So Mara, kom ons wees bewus van ons rasbril en skewe samelewing, maar kom ons wees ook krities teenoor onsself en reageer nie bloot instinktief nie. Daar het inderdaad alreeds ‘n klomp dinge in ons koppe geskuif en ook in die sosio-maatskaplike posisie van swart gemeenskappe. Uiteraard is daar nog ‘n lang pad om te loop, maar, so lyk dit vir my, die lyne skuif vanaf pigmentasie na ekonomiese klas.  Miskien moet ons begin om harder to praat en veg, oor daardie groepe in ons gemeenskap wat ekonomies agtergehou word. Dit sal dinge begin regstel want dis issue is ge-reg-tigheid en nie bloot musical chairs nie.

Ek is jammer dat Mara gefire is. Ek is jammer dat Unathi nou die swart plek moet vul aangesien sy ook uitgesproke is en moontlik gemuilband gaan word. (Ek like haar van haar breakfastshow met oorle Kabzela af op YFM!). MNET, sal dit nooit openlik erken waaroor dit gaan nie. Maar soos Mara, sal ons moet waag om praat oor die goed. Miskien lê die waarde van Mara se opmerkings daarin dat sy haar hart uitpraat en haar frustrasie vent oor die feit dat ons en die wêreld om ons, nog so geras is. Ons het ‘n gesegde dat ‘n mens nie van jou hart ‘n moordkuil moet maak nie. So ek is daarvoor dat ons eerder die rasgoed moet deurpraat, eerder as opkrop. Miskien  lê ons hoop juis daarin dat ons eerlik met mekaar kan praat oor die goed wat in ons koppe spook, terwyl ons nogsteeds vir mekaar, in genade aankyk, en probeer om saam dinge reg te stel. Ons wil mos dinge regstel, of hoe ?

Posted in: Uncategorized