Kuli, ons lag nie meer nie…

Posted on February 28, 2011

8


Kan swart mense ook rassisties wees?  Dis mos baie gerieflik om heeltyd wit mense voor die voet te beskuldig van rassisme. Hoe opereer swart rassisme, as daar so iets bestaan ?

Ek vra die vraag omdat Kuli Roberts gister, 27 Februarie,  in haar rubriek in die Sunday World, uitgevaar het teen ‘Coloured women’, om geen ander rede nie, as dat hulle ‘Coloured’ is. Dit het nie gegaan oor ‘n persoonlike worsteling met haar stereotipes of om bloot ‘n paar grappies rond te gooi nie; die punt was om diep seer te maak; dit was ‘n poging om die menswaardigheid van Bruin vroue af te takel. Weereens het verskeie stemme in haar verdediging opgestaan en vir ons herinner en reg gehelp, dat dit eintlik ‘n grappie is. ( Klink soos die reaksie op die Reitz-4!) Die probleem is egter, dis net die Non-Coloureds wat lag. Die kleurloses.

Ek lag nie vir die grappies nie.  Ek is nie een van daai slawe wat voortdurend opgeroep word om die Master te entertain nie.  In die geval is dit swart Masters, wat verbaas staan: hoekom lag julle dan nie?  Ons lag nie, want die inhoud van die rubriek is aanstootlik. Dit was eintlik nie bedoel as ‘n grap nie. Dis ‘n subtiele wel deurdagte strategie, met ‘n duidelike motief. Ons moet nie dink Roberts of Jimmy Manyi praat uit hulle beurt nie, of dat daar ‘n uitbarsting van afgryse sal wees, soos in die geval van die Reitz-4 se video nie.  Die strategie hier, is om baie subtiel die omgewing te skep, waar dieper ingegrawe kan word in die basiese menseregte van Bruin mense, in Suid-Afrika. Kom ek verduidelik my lees van die artikel.

Roberts was baie skerp met die formulering van die rubriek: daar is geen direkte aanmoediging tot haat of diskriminasie teen Bruin vroue spesifiek of Bruin mense in die algemeen nie.  Ek is seker daarvan sy sal vir ons daarop wys dat sy ook kinders en vriende het van gemengde herkoms, en dat sy ook êrens, swart mense bykom. Hierdie ontsnappingsgangetjies is ingebou, maar dis nie die punt van haar artikel nie.  Die inhoud spreek eerder op ‘n baie subtiele manier van die feit dat Bruin vroue eintlik, volgens haar, baie nader aan wit vroue is, en dat swart vroue, die mees onderdruktes is.  Onthou, sy verwys nerens na swart vroue self nie- vir haar is die swart ervaring die onuitgesproke norm en haar (en Suid-Afrika ?) se veronderstelde verwysingsraamwerk. Wat egter hier gepoog word is ‘n herdefinisie van die swart bewussyn (Biko). Bruines is nie regtig swart nie, en is so afskuwelik, as iets inherents in hulle Bruinwees, maar ook, uit eie keuse. Dis hier waar sy ‘n rassewig indryf tussen swart en bruin vroue, op so ‘n wyse dat die diepe pyn van swartwees, teenoor die bruin ervaring opgestel word, en die bruin geskiedenis van slawerny, kolonialisme en apartheid met een veeg verdwyn. Die swart ervaring is buite hulself afgeforseer, die bruin ervaring hier, is inherent en uit keuse, en dus moreel verfoeilik, afskuwelik. Gevolglik, die bruin vrou word die objek van swart afguns, maar ook swart venyn. Die grond vir hierdie venyn is nie ‘n diepgaande worsteling met die koloniale geskiedenis of sielkunde oor wat agter die komplekse worsteling met identiteit skuil nie. Nee, Roberts bied die bekende afstootlike stereotipes aan, as inherent tot Bruin mense. Hulle is maar so en hulle verkies mos om so te wees (haar vewysing na die pajamas en lables). ‘Infact’, Roberts sal miskien selfs, verwag dat ons weer ongemaklik saam gaan lag vir die karikatuur.  Maar die fatale fout is, sy sluit eintlik hier aan by die wit rassisme, nee, sy artikuleer en roep die rassistiese beelde op wat wit ideologie, deur eeue heen verkondig het teenoor alle ‘ander’ vroue. Dis die ou Sarah Baartman show:  Kom kyk die ‘freak show’, featuring vandag in die Sunday World! En soos die wit rassiste doen sy dit vandag, met die mag van die media tot haar beskikking. Hierdie is nie bloot ‘n tirade in die persoonlik ruimtes, in ‘n onbevange oomblik nie, dis die oproep van die rassistiese beelde, in ‘n publikasie in ‘n openbare rubriek in ‘n weekblad van Avusa, die grootste swart bemagtigings media konglomerate, in Suid-Afrika vandag.

So wat het ons hier ? Ons het rasse vooroordele wat ingespan word met al die mag tot haar beskikking, ten einde die ‘ander’, te beroof van haar, hul menswaardigheid en uit eindelik hul menseregte. Die doel is om op hierdie stadium bloot, die klimaat te skep waar die waardigheid van ‘n bepaalde groep ontken word, bloot omdat hulle deel is van daardie groep. Wanneer die menswaardigheid ondermyn is, kan hul menslikheid bevraagteken word, en as die menslikheid onder verdenking is, dan kan ons mos die menseregte van daardie groep ontneem. Uiteraard is ons nog nie by hierdie punt nie, maar dis die logiese konsekwensie van die strategie voor oë. En daarom kan mense vandag probeer om te paai, ‘ag dis mos net ‘n ou grappie’.  Wie neem nou vir haar ernstig?  Dit lyk vir my, egter ons moet die strategie ernstig opneem.  Ons kan nie langer, die aanval teen Bruin vroue ignoreer nie. Ons lag nie meer nie.  Ek herinner my aan die uitspraak van Mahatma Ghandi, ‘ First they ignore you, then they laugh at you, then they fight you, then you win’…

Oor hierdie vorm van swart rassisme, lag ons nie meer nie. Vir elke een wat saamlag oor hierdie tipe van grappies, is daar veel meer wat sal opstaan en selfs veg vir die waardigheid van elke moeder, elke vrou, of sy nou bruin, of swart of wit is.

Posted in: Uncategorized