Polisiegeweld en die nuwe (ou) SA

Posted on April 14, 2011

0


Dis met afgryse dat mens reageer op die beelde van polisiegeweld in swart gemeenskappe, maar ook in die res van Afrika. Wat vir my egter tref en laat wonder, is eerder die reaksie, of beter die gebrek aan reaksie. Ek besef my waarneming is subjektief, maar dis byna asof dit vir baie mense meer aanvaarbaar is vir polisie en weermaglede om met kanonne en bullets op wetsgehoorsame, arm mense los te brand, as om ryk gangsters en oligarge te arresteer. Die opstand van die Swazi’s het dit ook gewys. Baie het gereageer deur daarop te wys dat dit stupid was dat die mense teen die sogenaamde koning in opstand kom. Meeste van die Swazi’s, so word aan my verduidelik, is in elk geval baie trots op hulle koningshuis. Dis mos kultuur. Vir my, is dit natuurlik heeltemal onbegryplik. Die enigste konteks waarbinne ek woorde soos konings gebruik, was in die outydse kerkgesange en gebede, waar ons uitdrukkings hoor soos die ‘koning van die konings’, en ‘koninkryk’, ens. En hier is ek geleer, ons buig net voor een Koning. Maar dit lyk tog asof daar dieper vrae is.

Wat lê regtig agter hierdie stilswye ?  Een moontlike verklaring is dat mense doodgewoon voel dat geloofwaardige en effektiewe prosesse wel in plek is om die griewe van die armer deel van die bevolking aan te spreek. In die Suid-Afrikaanse konteks sal die regerende party ons mos voortdurend daaraan herinner dat hulle instellings geskep het waarlangs die burgerry hul stemme kan laat hoor. Dis gedeeltelik waar. Baie van die huidige burgerlike samelewing instellings is inderdaad geskoei op die Grondwet wat in 1996 aanvaar is. Dis egter ook waar dat die Grondwet, die vrug is van die onderhandelingsproses, waar veel meer as die regerende party betrokke was. Maar dis ook waar dat die idee van onafhanklikheid van die regsgesag, die howe, of the media, nie ‘n nuutskepping in Suid-Afrika is nie. Hierdie instellings is krities belangrik vir die daarstelling van die ruimte waarbinne alle mense se stemme en griewe aangehoor word. Ek sou egter wou aanvoer dat dit ‘n vraag is of die armer deel van die bevolking wel instaat is om toegang te kry tot hierdie prosesse. Dit lyk vir my asof die rykstes en die magtiges, nog steeds die septer swaai, en daarom is dit oor die algemeen so dat die armes nie groot geloofwaardigheid heg aan die polisie se vermoë om hulle te beskerm of aan die howe om hulle saak aan te hoor nie. Let wel, ek kritiseer nie die regsisteem nie, ek vra eerder die vraag oor die finansiele vermoë van die meerderheid van mense om hulle instaat te stel om te kan deelneem op daardie vlak, bedoelende op ‘n gelyke speelveld.  Hierdie persepsie (?) van onmag en ontnugtering dwing gewone mense dan om bloot terug te val op die ou metodes. Ons hoor dan, die uitdrukking, ‘Ons gaan march’, terwyl ander bloot in sinisme verval. ‘Dit gaan in elk geval nie ‘n verskil maak nie’. Dit bring my by die volgende waarneming.

‘n Tweede waarneming is dat baie van die ou struggle comrades, in alle eerlikheid ontnugter is deur die vlakke van onbeholpenheid, maar ook doelbewuste en sistematiese vergrype en korrupsie wat deesdae tipies is van regering. Dis niks nuuts nie, aangesien dit welig getier het in die ou SA. Vir baie egter, was hulle betrokkenheid in die struggle teen apartheid, juis gemotiveer deur die ideale van gelykheid, menswaardigheid, en geregtigheid, m.a.w. ‘n nuwe kultuur van regering. So, dit wat vandag aangaan is vêr van dit wat in die vooruitsig gestel is. Hierdie kategorie comrades het hul alles gegee; hulle is in die tronk gestop, gemartel, hulle het diep spore getrap, maar hulle het ook ‘n duur pryse betaal. Die idealisme en energie het mettertyd plek gemaak vir ‘n wrede besef dat ook die ‘comrades’, in die ‘underground’ of in ‘exile’, voete van klei het. Die system het ook vir hulle ingesluk. Die system is in ons. Om nou om te draai en hierdie erkenning te maak is seker een van die moeilikste dinge, veral as mens soveel prysgegee het, soveel vertrou het, soveel jou eie geloofwaardigheid op die spel geplaas het. Vir baie is daar dus geen omdraaikans nie, en daarom die terugtrek in privaat ruimtes en gesprekke, die onttrekking uit die publieke lewe, of vir ander, ‘n meer subtieler ontduiking van die verantwoordelikheid om harder te praat. Baie van ons energie gaan dus nou in die opbou van ons eie dinge, loopbaan, studies, gemeente, besigheid, my kinders. Ek het uiteraard simpatie met hierdie onttrekking, maar ek voel ‘n verleentheid aan die lyf.

Daar kan uiteraard ‘n klomp ander redes wees vir die stilswye, maar ek wil eers by hierdie twee volstaan. Moontlik lê my keuse daarin dat die twee  reaksies verband hou met mekaar, in die sin dat die onmag van die armes, die wreedheid van die nuwe SA, en die ontnugtering van die ‘comrades’ oor die nuwe gesig van die system, eintlik by mekaar hoort. Dis dieselfde sisteem wat in die verlede op vreedsame optogte losgebrand het, en terselfdertyd vir mense wou laat glo dat die sisteem eintlik die beste in gedagte het vir die armsaliges, en bestuur word deur goeie mense. Daarom is dit so krities belangrik om weer die gereedskap van suspisie en sosiale analise af te stof, te olie en in te span, ten einde die instellings van burgersamelewing te laat werk vir alle mense van die land. Maar meer nog, dit lyk na alles, tog nog belangrik om te sing, dat daar net een Koning is aan wie ons gedienstig moet wees. Miskien is dit juis hier waar die dinge begin skeefloop het:  medemense, feilbaar en uitgelewer aan hul sug vir mag, het vir ons laat glo dat hulle eintlik konings is, gode wat aanbid moet word en daarom die reg het om hul onderdane, soos Andries Tatane, dood te slaan. As ons egter ophou om hierdie leuen te glo, dan kan ons nie anders as om in Andries Tatane, ‘n broer of eerder onsself te sien nie. Ons reaksie is dan meer as bloot afgryse, maar ‘n opstand teen hierdie afgodery en die bou van nuwe ruimtes vir menswees, maar ten diepste, die bou van nuwe mense. Dis moontlik hier waar ons verder moet kyk as politieke partye en uitgeblykte bevrydingsbewegings, en sterker moet kyk na sosiale netwerke en gemeenskappe, wat op nuwe wyses mense met mekaar verbind, en bemagtig. Dis na my mening die nuwe ruimtes vir publieke teologie en morele vorming.

Posted in: Uncategorized