Prof Piet Meiring en Kristy Claassen corner my ‘n bietjie gister met die vraag oor die rol van witmense in die voortgaande verandering of soos ons dit teologies sou noem, die reformasie binne die kerk en Afrika . Is daar nog plek vir wit mense, in terme van Steve Biko se verstaan van swart bewussyn en ‘n rassige verstaan van Afrikaan-wees. Prof Meiring wonder dan, wat sou Biko vandag vir ons wou sê, ‘Is ons African of swart…. African theology of Swart teologie?
Hierdie vraag het opgekom in ‘n gesprek oor wat dit beteken om African en ook om Reformed te wees vandag. Dr Des van der Water het die gesprek ingelei en Dr Danny Titus en Kristy Claassen het gerespondeer en hulle perspektiewe aangebied. Daar was ‘n lewendige bespreking veral toe van der Water vir Peter Tosh aanhaal uit sy reggae song, African. Volgens Tosh is net swartmense Africans. Hy sing, ‘As long as you’re a black man, you’re an African’.
My antwoord op Prof Meiring en Kristy was ‘n bietjie woer-woer, maar ek het weer gaan dink en wou myself, in my ma-se-taal uitdruk. Kwessies oor identiteit lê baie diep ingebed in ons eie stories en taal. Daarom is dit so dat ons heeltyd met mekaar moet praat, vrae vra, ons antwoorde weer beluister en seker maak dat ons op dieselfde golflengte is. As ons eers op dieselfde golflengte is, hoef ons uiteraard nie in alles met mekaar saamstem nie, maar ten minste kan ons met mekaar daaroor praat.
Terug by die vraag. Ek sou eerstens wou toegee dat Steve Biko in ‘n ander historiese konteks opgetree en gepraat het (soos hy wou). Ek dink egter dat sy stem nog steeds relevant is. Die land, in Biko se tyd, in die 1970s was onder ‘n spesifieke politieke bestel waar ons andersheid, ons biologiese, kulturele en taalverskille, geras is. Die rasverdelings was amptelike wetgewing, maar meer belangriker, dit het sekeres uitgesluit en anderes doelbewus en planmatig, bevoorreg. Biko het aangevoer dat ‘n nuwe bewussyn, swart bewussyn, hierdie verdelings deurbreek, deur ‘n bewussyn gebaseer op bevrydende praxis. Swart bewussyn het in die konteks, beteken ’n positiewe be-aming van ons Godgeskape selfwees, van jouself, maar ook ‘n bewustelike aksie of sosiale betrokkenheid in die stryd teen die rassistiese sisteem en om teen die grein van ‘n rassistiese samelewing in te gaan.
Ek spring toe na vandag. Die gewraakte apartheidwette is geskrap, maar laat ons eerlik wees, die gevolge en bitter erfenis daarvan, spook nog steeds by ons. Wanneer ons van hierdie bitter erfenis praat, bedoel ons nie bloot die harde ekonomiese ongelykhede nie. Dit is ‘n krities belangrike dimensie van die erfenis, maar ook ( en dit is Biko se klem) die ander werklikheid van swart selfhaat, ‘the flight from the black self’. Hierdie dimensie sluit in die selfhaat teenoor die swartheid, my gekleurdwees, die hare, die neus… maar ook die amptelike geskiedenisstories van ondergang, en binne die kerklike konteks, van heidendom. Ons vlug nog steeds weg van daardie verlede, skuldbevlek. Biko was dus van mening dat daar geen eenheid en integrasie kan wees, terwyl daar nog steeds die meerderwaardheids kompleks is, asook hierdie werklikheid van die flight from the black self, die leë, swart dop, sonder energie, kreatiwiteit en totaal afhanklik. Dis vir Biko dus nodig om ‘n nuwe bewussyn te skep, en dit gaan dus vir swartbewussyn oor die opbou van selftrots; inderdaad, jy pomp ‘n nuwe energie en lewe in die leë dop (empty shell).
Nou Danny Titus, het uiteraard skerp hierop gereageer en ek weet hy praat deesdae nie meer van non-racialism nie. Hy voel die dae van non-racialism is getel en ons moet eerder praat van ‘n multi-rassige (multi-racial) samelewing. Vir hom is daar reële verskille en spesifiek, rasverskille. Biko egter (en ek stem nog steeds met hom saam) sou eerder praat van ‘n anti-rassistiese raamwerk en benadering. Binne hierdie benadering sou ons sê dat die verskille wel daar is. Soos reeds genoem is die legacies van ‘n rassistiese sisteem nog met ons, derhalwe moet ons bewustelik teen dit werk en veg. Die relevansie dus, vir die Suid Afrikaanse konteks vandag. is dat ons saam kan staan en werk teen rassisme. Wit mense kan ook anti-rassisties wees. Hulle kan ook ‘n anti-rassistiese raamwerk aanvaar, en daarbinne werk, deur jou witheid aan te spreek, jou bevoorregting en die bevoorregting in jou eie gemeenskap, ‘n nuwe Afrika re-formasie.
Die implikasies van ‘n anti-rassistiese raamwerk vir kerkgemeenskappe is duidelik dat hierdie wit mense vir mekaar sê, ek gaan nie probeer om swart of bruin mense se probleme op te los nie, want ‘n wit messias is die doodskoot vir die sielsbevryding binne hierdie gemeenskap. Dit versterk die afhanklikheidsindroom. Hierdie reformasie beteken dat ons saam met ander, vir ‘n totale Afrika bevryding werk deur eerder die werklikheid van bevoorregting en rykdom, ontvang in sonde, in my eie gemeenskap sal aanpak en bewustelik sal werk aan ‘n nuwe raamwerk op die pad na gelykheid en wedersydse gesprek. Dit gaan dus oor ‘n nuwe kleurvolle reformasie, waar verskeidenheid iets bydrae tot die rykdom en voorspoed van almal. Hierdie verskeidenheid gaan nie bloot oor haartekstuur of die kleur van die oë nie, dit gaan ook oor die verskillende invalshoeke en benaderings in verskillende gemeenskappe en op verskillende vlakke. Prof Russel Botman noem byvoorbeeld dat die kwessie van ‘n inklusiewe Afrika-wees krities is vir ons toekoms, maar dis ‘n inklusiwiteit wat ook andersheid waardeer.
Ons sien vandag ‘n nuwe opstoot van coloured of bruin identiteit. Dis nie bloot die ou apartheid identiteit nie, eerder ‘n kulturele self-affirmation, ‘n nuwe selftrots, waar mense vir hulself en vir mekaar sê ons het ‘n unieke bydrae te maak in nasiebou of die bou van eenwees. Die gevoel is meer en meer dat die bruinwees of gemengdheid ‘n belangrike bydrae is, nie van ‘n rassistiese of negatiewe perspektief nie, maar vanuit ‘n self-bevestigende (‘affirmative’) perspektief, en ek wil byvoeg, om te leer hoe om verskillendheid te waardeer. Die bruin ervaring van o.a. Afrika, Oosterse en ook Europese wortels en vermenging (regoor die wêreld!) het kritiese lesse vir ‘n nuwe kosmopolitaanse, vloeibare kulturele werklikheid. Hierdie oplewing, is deel van die huidige agenda: om so nuwe lewe in te pomp in die leë swart dop en om jouself te affirm en in terme en vanuit hierdie posisie saam te werk en te kan saamwerk (!) Dit sou ek sê, is die relevansie van Biko se denke, nie net vir witmense nie, maar vir almal wat werk na gelykheid. Dis hierdie self-affirmation en self-refleksie as een bousteen in die proses van betrokkenheid met mekaar en in ons samelewing.
Ek hoop dat ek die vraag beantwoord het van Prof Piet en Kristy. Miskien het die vraag vir ons gehelp om verder te kyk. Uiteraard kan ek nie voorskryf nie, maar ek kan wel skryf oor hoe my kop deesdae werk oor die komplekse werklikheid. Dis in hierdie ruimte waar ons ons eie koppe gebruik en vrylik ons kopstukke op die tafel kan sit en waar Afrika reformasie verder geneem kan word… nie na ‘n kleurlose, of bloot ‘n wit of swart reformasie nie, maar na kleurryke same-lewings.
Gino
Oktober 31, 2011
Ek dink rasse ongelykheid of selfs die kwessie van ras sal nog vir dekades by ons bly… Al staatsdiens vorms verwys na ras, huidige sensus opname verwys na ras… of ander(anderskleuriges) hoekom nie net human nie soos Prof JJ daarna verwys. Die vraag of daar nog plek vir witmense is ,,, moeilik om te antwoord!
Christo Lombaard
Oktober 31, 2011
Gino is reg.
Ras bly mag gee aan wie ookal in charge is.
En ek huil.
Cobus
Oktober 31, 2011
Gino, omdat die vraag of daar nog plek is vir witmense gevra moet word, daarom moet ons bly worstel met die racial constructs wat leef. Ek dink dit sou gevaarliker wees tans om die verwysings uit sensusvorms uit te haal as om eerder te huil dat ‘n sensus steeds kan patrone uitwys op grond van hierdie historiese constructs.
Reggie, ek dink die challenge vir myself is om Boesak se woorde te gaan vertaal in ons eie tyd in: “I speak of those white Christians who have understood their own guilt in the oppression of blakcs in terms of corporate responsibility, who have genuinely converted; those whites who have clearly committed themselves to the struggle for liberation and who, through their commitment, have taken upon themselves the condition of blackness in South Africa.”
Reggie Nel
November 2, 2011
Cobus, dis hoekom dit so crucial is om die lewe van David en Annemie Bosch, Beyers Naude, Klippies, Willem, Anna Samuel te study, maar ook om (as dit nog moontlik is) om hulle te probeer ken, as mense. Klippies maak in sy verstaan van dialoog die punt dat dialoog nie maar net moet beteken dat ons die boeke van die amptelike ‘leiers’ probeer lees en verstaan nie, maar hulle probeer ken as mens. Dis ‘n ken, in hulle weerloosheid, kwesbaarheid, maar diepe passies. Daar ontdek mens werklik hoe mense se harte klop, nie bloot in hulle boeke en stringe publikasies nie. Boesak en ek het ander worstelinge en ons sukkel om dit op so ‘n wyse te verwoord dat ons egtheid in ons struggles met ons gewonde mense gevoel word. Ons het families en diep vriende wat daagliks weer terugval onder die geweld van die ongelykheid in mag en Chris, ons huil daagliks oor ons mislukkings en onmag, teenoor die reuse suksesse van ongelykheid. Maar deur ons trane, werk ons vir ‘n kollektiewe optel van mekaar en daaruit vir ‘n selftrots om saam met ander, te stap vorentoe.
Renier Lourens
November 16, 2011
Ek dink saam oor die hele bewussyn-ding: Daar is steeds gevoelens tussen verskillende rasse en ek vermoed dit gaan oor bewussyn. Ek stem dat die die selfbeeld en die karakter van gekleurdes afgebreek en vertrap is, in die geskiedenis en dat die pad van opbou wat voorlê steil is, maar met mening aangepak moet word. Ek vermoed ook dat blankes ‘n bewussyns-knou weg het. Daarom hierdie hardekop-houding teenoor alles en almal wat reg en geregtigheid wil laat seëvier- hoor maar hoe gesels die manne om die braaivleis vuur! Natuurlik nie almal nie, maar die meeste. Dis asof blankes hulleself onttrek uit die samelewing.
Die punt wat ek wil maak is: ons almal moet met mekaar oop en eerlik wees en erken, ja, ek het ‘n probleem met wie ek is in Suid-Afrika vandag. Of dit is as gevolg van ‘n apartheids-legacy of ‘n na-’94-onsekerheid, maak nie saak nie. Ons is op ‘n quest om onsself te vind as mens, voor God en langs mekaar. Hoekom dan nie maar hande vat, ons bewussyn erken en mekaar dra, opbou en bystaan op hierdie pad nie? Laat ons dan maar ‘n nuwe swart-, bruin- en witbewussyn ontdek as onderdele van ‘n nuwe nasionale bewussyn wat sal bydra tot ‘n beter Suid-Afrika, Afrika en wêreld nie.
Ek weet net dit: ek sal nie my nuwe witbewussyn kan ontdek en ontgin sonder my swart en bruin vriende nie; nie sonder dat ek die verlede in die oë staar en my vrede daarmee maak nie; nie sonder dat ons hande vat en saam die pad stap na ‘n helder toekoms waarin daar bemagtiging plaasvind nie.
Reggie Nel
November 17, 2011
Dankie vir jou gedagtes Renier. Soos Gino hierbo gesê het die saak gaan ook oor ongelykheid, wat nog baie lank, op rassegronde, met ons sal wees. Biko was van mening dat hand-aan-hand stap nie moontlik sal wees terwyl die meerderwaardigheidskompleks en die minderwaardigheidskompleks nog bestaan nie, maar ook, terwyl die ongelykhede bestaan nie. Daarom is dit baie keer makliker vir witmense om hul swart huishulp te beskou as ons is buddies, maar struggle met ‘n sterk swart leier soos byvoorbeeld Peter de Villiers. Hy word dan wyd en Suid uitgekryt as arrogant, maar eintlik is hy ‘n nar, met die snor en die heliumstem. Dis mos sy name, “Snorre” en “Heliumstem”. Ek besef Renier, dat ek miskien nie eers na jou verwys nie, maar lees Die Beeld, en al die bekende sportsjournos , Keo, Dan Retief, Liam.. daai een van IOL, dan sien ons hoe die dinge werk. Ons het nog ‘n lang pad om te stap.
Cobus
November 17, 2011
Renier, ons worstel saam, en ek waardeer dit van jou. Ek vermoed egter ons moet iets byvoeg by wat jy sê: die knou wat witmense weg het is nie bloot oor ‘n post-94 onsekerheid nie (inteendeel, ek dink hierdie onsekerheid is maar bloot simptoom van iets anders). Die knou gaan oor ‘n baie lang geskiedenis van bevoordeling. Daar moet ons begin ekke dink. Die onsekerheid (van ‘n groep wat steeds die ekonomiese magte, groot deel van die media, beste skole en verskeie ander terreine beheer) maak ook vir my net sin as ons dit lees teen die agtergrond van ‘n identiteit wat aanvaar bevoordeling is normaal.
Renier Lourens
November 17, 2011
Die pad wat ons geloop het tot hier is een van bevoordeling op grond van ras. Ek wonder net of daar nie ‘n tipe skuldgevoel onder blankes is, wat bydrae tot die knou nie. En nou weet hulle nie regtig hoe om daarvan ontslae te raak nie. Hoe kan die kerk hierin leiding gee?
Miskien moet ons klein individuele pogings, meer openlik celebrate: Ek weet van talle plaasboere, wat probeer om hierdie ongelykheid reg te stel deur o.a. winsverdeling, hulp met aanskaffing van huise na aftrede, pesioen en kwaliteit onderrig van die werkers se kinders- ook tersiêr. Besigheidsmanne wat uit eie sak werknemers se kinders help om kwaliteit onderrig te ontvang en om van sportgeleenthede gebruik te maak; pogings aan wend om werknemers se lewenstoestande en gehalte te vebeter. Juis omdat hulle hierdie mense se menswaardigheid respekteer en die geskiedenis van Suider Afrika so goed ken. Sal dit nie ander inspireer om dieselfde pad te loop nie, en nie net dit nie, maar ook om te kan erken dat hulle deel was van die exploitation en bevoordeling en dat hulle daarom ook hulle verantwoordelikheid ten opsigte van die hertsel van ongelykheid, moet opneem.
‘n Van-onder-na-bo beweging is dikwels meer suksesvol as andersom, juis omdat dit in die harte van mense gebore word?
Gaan dit tyd vat? Beslis, ja! Kan ons dit versnel? Ek glo so. Hopenlik inspireer my eie lewe iemand iewers…
Cobus
November 17, 2011
Daar is inderdaad ongelooflike stories wat op plekke afspeel! Ek dink dit moet meer vertel word.
Ek dink nog bietjie oor die “skuld” ding. My vermoede is dat ‘n groter probleem die manier is waarop ons “skuldgevoel” as sodanig as sleg afmaak, en daarmee die emosies wat normaal veronderstel is om te wees in die konteks van ongeregtigheid en bevoordeling dooddruk (FW de Klerk Foundation wat vir Tutu sê “guilt is not Christian”…) en op die manier net bloot die status quo in stand hou.
Ek dink die kerk het beter resources in ons tradisie vir hoe ons met “skuld” omgaan, en ons moet dit in ons konteks met ons vrae kom neersit.
Reggie Nel
November 17, 2011
Ek hou van die stories (getuienisse) en ek saam dat ons dit nie genoeg celebrate nie. Die ander kwessie is ook dat ons nie ons ‘kerklike resources’ benut nie. Verbeel jou, dat mense Sondag, waar die meeste reformed communities, ‘n tyd van skuldbelydenis het, hul eie storie in die geloofsgemeenskap vertel. Ok vir sommige gaan dit meer beteken om dit in die bybelstudie groep te deel. Maar ons moet vanuit ‘n skuld erkening en belydenis beweeg na groei in geloof en dissipelskap, op ‘n manier wat beteken diens en getuienis. En in die getuienis vertel ons mos maar nog gereeld ons storie vir ander wat nog in sonde is en nog nie tot skuldbesef en belydenis gekom het nie. Miskien is my Christologie naief, maar kom ons praat oor ‘n relevante Christologie na apartheid.
Reggie Nel
November 17, 2011
Sorry.’ .. ek stem saam..’ (belydenis)