reformasie, kleurryk en african

Posted on Oktober 31, 2011

11


Prof Piet Meiring en Kristy Claassen corner my ‘n bietjie gister met die vraag oor die rol van witmense in die voortgaande verandering of soos ons dit teologies sou noem, die reformasie binne die kerk en Afrika . Is daar nog plek vir wit mense, in terme van Steve Biko se verstaan van swart bewussyn en ‘n rassige verstaan van Afrikaan-wees.  Prof Meiring wonder dan, wat sou Biko vandag vir ons wou sê, ‘Is ons African of swart…. African theology of Swart teologie?

Hierdie vraag het opgekom in ‘n gesprek oor wat dit beteken om African en ook om Reformed te wees vandag. Dr Des van der Water het die gesprek ingelei en Dr Danny Titus en Kristy Claassen het gerespondeer en hulle perspektiewe aangebied. Daar was ‘n lewendige bespreking veral toe van der Water vir Peter Tosh aanhaal uit sy reggae song, African. Volgens Tosh is net swartmense Africans. Hy sing, ‘As long as you’re a black man, you’re an African’.

My antwoord op Prof Meiring en Kristy was ‘n bietjie woer-woer, maar ek het weer gaan dink en wou myself, in my ma-se-taal uitdruk. Kwessies oor identiteit lê baie diep ingebed in ons eie stories en taal. Daarom is dit so dat ons heeltyd met mekaar moet praat, vrae vra, ons antwoorde weer beluister en seker maak dat ons op dieselfde golflengte is. As ons eers op dieselfde golflengte is, hoef ons uiteraard nie in alles met mekaar saamstem nie, maar ten minste kan ons met mekaar daaroor praat.

Terug by die vraag. Ek sou eerstens wou toegee dat Steve Biko in ‘n ander historiese konteks opgetree en gepraat het (soos hy wou). Ek dink egter dat sy stem nog steeds relevant is. Die land, in Biko se tyd, in die 1970s was onder ‘n spesifieke politieke bestel waar ons andersheid, ons biologiese, kulturele en taalverskille, geras is. Die rasverdelings was amptelike wetgewing, maar meer belangriker, dit het sekeres uitgesluit en anderes doelbewus en planmatig, bevoorreg. Biko het aangevoer dat ‘n nuwe bewussyn, swart bewussyn, hierdie verdelings deurbreek, deur ‘n bewussyn gebaseer op bevrydende praxis. Swart bewussyn het in die konteks, beteken  ’n positiewe be-aming van ons Godgeskape selfwees, van jouself, maar ook ‘n bewustelike aksie of sosiale betrokkenheid in die stryd teen die rassistiese sisteem en om teen die grein van ‘n rassistiese samelewing in te gaan.

Ek spring toe na vandag. Die gewraakte apartheidwette is geskrap, maar laat ons eerlik wees, die gevolge en bitter erfenis daarvan, spook nog steeds by ons. Wanneer ons van hierdie bitter erfenis praat, bedoel ons nie bloot die harde ekonomiese ongelykhede nie. Dit is ‘n krities belangrike dimensie van die erfenis, maar ook ( en dit is Biko se klem) die ander werklikheid van swart selfhaat, ‘the flight from the black self’. Hierdie dimensie sluit in die selfhaat teenoor die swartheid, my gekleurdwees, die hare, die neus… maar ook die amptelike geskiedenisstories van ondergang, en binne die kerklike konteks, van heidendom.  Ons vlug nog steeds weg van daardie  verlede, skuldbevlek. Biko was dus van mening dat daar geen eenheid en integrasie kan wees, terwyl daar nog steeds die meerderwaardheids kompleks is, asook hierdie werklikheid van die flight from the black self, die leë, swart dop, sonder energie, kreatiwiteit en totaal afhanklik. Dis vir Biko dus nodig om ‘n nuwe bewussyn te skep, en dit gaan dus vir swartbewussyn oor die opbou van selftrots; inderdaad, jy pomp ‘n nuwe energie en lewe in die leë dop (empty shell).

Nou Danny Titus, het uiteraard skerp hierop gereageer en ek weet hy praat deesdae nie meer van non-racialism nie. Hy voel die dae van non-racialism is getel en ons moet eerder praat van ‘n multi-rassige (multi-racial) samelewing. Vir hom is daar reële verskille en spesifiek, rasverskille. Biko egter (en ek stem nog steeds met hom saam) sou eerder praat van ‘n anti-rassistiese raamwerk en benadering. Binne hierdie benadering sou ons sê dat die verskille wel daar is. Soos reeds genoem is die legacies van ‘n rassistiese sisteem nog met ons, derhalwe moet ons bewustelik teen dit werk en veg. Die relevansie dus, vir die Suid Afrikaanse konteks vandag. is dat ons saam kan staan en werk teen rassisme. Wit mense kan ook anti-rassisties wees. Hulle kan ook ‘n anti-rassistiese raamwerk aanvaar, en daarbinne werk, deur jou witheid aan te spreek, jou bevoorregting en die bevoorregting in jou eie gemeenskap, ‘n nuwe Afrika re-formasie.

Die implikasies van ‘n anti-rassistiese raamwerk vir kerkgemeenskappe is duidelik dat hierdie wit mense vir mekaar sê, ek gaan nie probeer om swart of bruin mense se probleme op te los nie, want ‘n wit messias is die doodskoot vir die sielsbevryding binne hierdie gemeenskap. Dit versterk die afhanklikheidsindroom. Hierdie reformasie beteken dat ons saam met ander, vir ‘n totale Afrika bevryding werk deur eerder die werklikheid van bevoorregting en rykdom, ontvang in sonde, in my eie gemeenskap sal aanpak en bewustelik sal werk aan ‘n nuwe raamwerk op die pad na gelykheid en wedersydse gesprek. Dit gaan dus oor ‘n nuwe kleurvolle reformasie, waar verskeidenheid iets bydrae tot die rykdom en voorspoed van almal.  Hierdie verskeidenheid gaan nie bloot oor haartekstuur of die kleur van die oë nie, dit gaan ook oor die verskillende invalshoeke en benaderings in verskillende gemeenskappe en op verskillende vlakke. Prof Russel Botman noem byvoorbeeld dat die kwessie van ‘n inklusiewe Afrika-wees krities is vir ons toekoms, maar dis ‘n inklusiwiteit wat ook andersheid waardeer.

Ons sien vandag ‘n nuwe opstoot van coloured of bruin identiteit. Dis nie bloot die ou apartheid identiteit nie, eerder ‘n kulturele self-affirmation, ‘n nuwe selftrots, waar mense vir hulself en vir mekaar sê ons het ‘n unieke bydrae te maak in nasiebou of die bou van eenwees. Die gevoel is meer en meer dat die bruinwees of gemengdheid ‘n belangrike bydrae is, nie van ‘n rassistiese of negatiewe perspektief nie, maar vanuit ‘n self-bevestigende (‘affirmative’) perspektief, en ek wil byvoeg, om te leer hoe om verskillendheid te waardeer. Die bruin ervaring van o.a. Afrika, Oosterse en ook Europese wortels en vermenging (regoor die wêreld!) het kritiese lesse vir ‘n nuwe kosmopolitaanse, vloeibare kulturele werklikheid. Hierdie oplewing, is deel van die huidige agenda: om so nuwe lewe in te pomp in die leë swart dop en om jouself te affirm en in terme en vanuit hierdie posisie saam te werk en te kan saamwerk (!) Dit sou ek sê, is die relevansie van Biko se denke, nie net vir witmense nie, maar vir almal wat werk na gelykheid. Dis hierdie self-affirmation en self-refleksie as een bousteen in die proses van betrokkenheid met mekaar en in ons samelewing.

Ek hoop dat ek die vraag beantwoord het van Prof Piet en Kristy. Miskien het die vraag vir ons gehelp om verder te kyk. Uiteraard kan ek nie voorskryf nie, maar ek kan wel skryf oor hoe my kop deesdae werk oor die komplekse werklikheid. Dis in hierdie ruimte waar ons ons eie koppe gebruik en vrylik ons kopstukke op die tafel kan sit en waar Afrika reformasie verder geneem kan word… nie na ‘n kleurlose, of bloot ‘n wit of swart reformasie nie, maar na kleurryke same-lewings.