Mense vergewe nie maklik nie. En selfs al sou vergifnis wel gebeur, hoor ons mos gereeld die woorde,’Ek sal vergewe, maar nie vergeet nie’. Baie keer word hierdie woorde gesê as ‘n fyn, maar skerp waarskuwing. Maar meer nog, dit is so dat geheueverlies of vergeetagtigheid, ook kan dui op ‘n dieper, ernstige kwaal. Dit is gesond om te kan onthou. Die belangriker uitdaging is egter, hoe ons onthou.
Onlangs is ek in ‘n pynlike gesprek met ‘n jongmens op Twitter, wat uit Egipte moes vlug, nadat van haar familielede daar uitgemoor is, as gevolg van hul geloof. Om eerlik te wees, ek kon nie ‘n 140 karakter, maklike of selfs, teksvers antwoorde bied op haar seer en bitterheid nie. Ons moes verlede week weereens die grusame stories verteer van godsdiensgeweld in die Noordooste van Nigerië. Hoe verwerk hierdie naasbestaandes, hulle wat dit oorleef het, self die herinneringe, waar hul ly aan die wonde van die onverdraagsaamheid en uiteindelik grusame geweld. Hoe word die kringloop van pyn deurbreek, sodat nuwe uitdrukkings van gemeenskap en same-lewing moontlik word?
Kundiges dui daarop dat een vorm van geheueverlies ‘n manier is waarop ons psige, ‘n dieper trauma verwerk. Dit kan dus ‘n positiewe uitwerking het op die kort termyn, maar op die lang duur bly dit krities om genesing te vind vir die trauma en die pyn. Die seer wat nie genesing vind nie, sweer, en woed uit op die naastes om ons. Prof Dirkie Smit beskryf hoedat hierdie herinneringe aan ons kleef, deel word van wie ons is, en so ons gedagtewêreld vorm tot spookhuise ‘waarin lang vergange herinneringe soos geeste ronddwaal en ons elke keer onverwags oorval en verskrik’. Hy verwys dan na die ‘groot 20st-eeuse denker’, Charlie Brown. In antwoord op Linus se stelling, ‘Ek glo dit is verkeerd om jou te kwel oor die dag van more. Ons moet liewer net aan die hede dink’, antwoord Charlie glo, baie ontstig, ‘Nooit… ek hoop nog altyd dat die verlede beter gaan word.’
Inderdaad, die verlede kan beter word. Daar is genesing moontlik vir die verlede. Hierdie genesing is moontlik as ‘n radikale deurbraak in die bitter kringloop. Dit gaan nie oor die ontkenning van die herinneringe nie, maar ‘n gelowige her-kenning. Die bitter kringloop stu voort as ‘n spesifieke soort vashou aan die herinneringe van pyn, onreg, geweld of selfs die dood. Hierdie vashou word beinvloed deur ‘n sien van onsself as geregtig op die aarde, op haar hulpbronne, op ons lewe, hier, vir onsself. Ons as mens verdien eintlik, hierdie geregtigheid. Waar dit wat ons op geregtig is en wat ons dus verdien, bedreig word, van ons ontneem word, dan is ons die slagoffer. Nou word ons opgeroep, dieper nog, dis ons menslike bestemming om dit wat eintlik aan ons behoort, terug te neem en ons verdienstes, op te eis en ten alle koste te beskerm. Hierdie reaksies is menslik verstaanbaar. Dis die wêreld waarin ons grootgeword het. Geloof ken egter nie hierdie vashou nie. Geloof hou ons vas, deur te onthou. Ons onthou en herken dat God die Gewer is van al hierdie gawes, insluitend die gawe van regte menswees, as medemenswees. God se regtheid word deur ons ontvang, nie deur verdienste nie, nie ons veldtogte nie, maar uit genade. Ons onthou dat ‘God Homself geopenbaar het as die Een wat geregtigheid en ware vrede onder mense wil bring’. Ons herken dat ons eie pogings om God se gawes vir onsself en ons groep as privaat eiendom, op te eis en te beskerm, die grofste vorm van geweld is, teen wie God ons bestem het om te wees, teen Godself. Daarom kan ons nie onsself voor God aanbied as slagoffer of as kruisvaarder vir geregtgheid nie.
Die Amerikaner pasifis en teoloog, Stanley Hauerwas, reageer op vrae ‘n paar weke na die verwoestende aanvalle op die World Trade Centre, op 11 Sept 2001. Hy verduidelik sy reaksie teen die dreigende strydtaal, ‘Ons reaksie is om voort te gaan om op ‘n wyse te leef, wat getuig van ons geloof dat die wêreld nie op 11 Sept 2001 verander het nie. Die wêreld is verander gedurende die viering van die Pase in 33 vC’. God het die kringloop deurbreek, deur die kruisloop, waar Sy eie slagoffer die Een was wat in ons skuld, hangend aan die geweldadige kruis, vergifnis uitdeel aan geharde Romeinse soldate, ‘n skuldige moordenaar, maar ook aan die godsdienstige geweldenaars, wat vir Hom kruisig. Vergifnis deurkruis verdienste, maar ook eie geregtigheid. Hierdie vergifnis is nie menslik verstaanbaar nie. Dis nie die taal van die wêreld waarin ons grootgeword het nie, maar dit laat ons God se regtheid herken. Dit laat ons ons verlede sien in die lig van God se gawes aan ons, inderdaad God se hart van genade, wat vergewe, maar ook wat gesond maak. Ons sien ons aandadigheid, maar ook God moontlikhede van vergifnis en genesing, van ‘n nuwe begin, van ‘n bevryding uit die spookhuise. ‘n Helende onthou word so ons fondasie vir nuwe samelewing, ‘n nuwe samelewing wat aanhou hoop dat die verlede beter gaan word, want ons het die gawe ontvang van vergifnis omdat ons onthou, omdat ons met mekaar die brood en die wyn ontvang en deel.
Posted on November 16, 2011
0