Die kreatiewe broosheid van lewe

Aan die een kant is ‘n brose oud-president Nelson Mandela, selfs in sy lyding, besig om (weereens!) mense bymekaar te bring – aan die ander kant is lede van sy politieke party, besig om faeces bymekaar te maak om dit oor die vloer van een van ons internasionale lughawens uit te stort. Hoe vêr kan ‘n mens val van jou medemenslikheid, van ‘n diepe besef van die oomblik? Hoe dwaas kan politieke ideologie mens maak in die oomblik waar dit saakmaak- die oomblik waar die oë van die wêreld op jou land, jou leiers en jou politieke volwassenheid is, waar die wêreld soek vir inspirasie, vir iets anders, iets nuuts.

Ek wil tog byvoeg dat die ANC wel amptelik die belhamels aangespreek het. Ek soek egter nog vir die inspirasie. Dit lyk vir my asof mens ten minste twee afleidings kan maak oor die optredes van ANC : 1) Die feit dat die leierskap agterna stem dik gemaak het, beteken dat daar eintlik maar min beheer is oor die optredes van hul lede; 2) Miskien is die ‘aanpraat’ aanduiding dat hulle heimlik, hul lede ondersteun in hul optrede. Ek vermoed dis ‘n kombinasie van die twee. Dis geen geheim dat die organisasie waarvoor Nelson Mandela roem verwerf het deesdae diep verdeeld (kwesbaar) is nie. Die leiers (so lyk dit vir my) worstel om die lede onder beheer te kry en daarom is daar van die leierskap wat die tipe van politiekery verdedig. Hierdie tipe van leierskap ironies genoeg, ontbloot nie die politieke opponente nie, maar eerder hul eie gebrek aan politieke verbeelding en gravitas.

Dit beteken egter na my mening nie dat die beleidsposisies en die veranderings die laaste bykans twee dekades, onbenullig of ontoepaslik is nie. Inteendeel, die grondwet en wette wat sedert 1994 daargestel is, is (te danke aan die leierskap van politieke leiers soos Nelson Mandela, en andere) weldeurdag en tydig. Die groot krisis vir die ANC en ons land is egter in die toepassing en die ondermyning van die grondwet en die verskeie instellings en ‘n onvermoë om nuwe visie en energie te skep, teenoor ‘n sterker stroom van opposisie. Ek oordeel dat die sleutel tot die verstaan van hierdie krisis is juis leierskap. Daar is ‘n gebrek aan leierskap wat die oomblik fyn kan aanvoel en nuwe rigting en optredes kan inspireer.

Een van die erfenisse van oud-president Nelson Mandela is ongetwyfeld sy fyn onderskeiding van die oomblik. Ons kan verskeie stories opnoem. Sy rol in die totstandkoming van die jeugliga, die militêre vleuel van die ANC, sy rol in die  organisering van die Robbeneiland groep, die gesprekke met die Nasionale Party in die 80s, die Stompie Sepei voorval, die Springbokembleem, die 46664 beweging ens. Al hierdie stories wys op leierskap wat nie blind was net vir die partypropaganda nie, maar leierskap wat ‘n fyn aanvoeling het vir die oomblik, vir dit waaroor dit in die struggle gegaan het, naamlik medemenslikheid, menslike waardigheid en geregtigheid. Die oomblik wanneer dit bloot gaan oor  naarstigtelik die party instandhou, of om die geskiedenisboeke voor te lees, het ons ons uitsig (drome) op die toekoms prysgegee. Volwasse leierskap handhaaf ‘n fyn balans tussen die lesse uit ons stories (die verlede), ‘n lees van die tye (die hede) en die kreatiewe skep van nuwe moontlikhede (die toekoms). As dit een van die lesse is wat ons kan leer uit die lewe van leiers, en verder neem in die nuwe wyses waarop ons reageer op ons uitdagings, eers dan (so lyk dit vir my) is daar hoop op ‘n nuwe geslag leiers.

Die broosheid van die menslike lewe en die verganklikheid daarvan, is nie die einde van lewe nie – as ons die lesse leer, skep dit ruimte vir hierdie nuwe moontlikhede.

2 Comments

  1. Inderdaad Reggiue. Egte leierskap beteken nie om agter mense aan te loop nie, maar voor hulle uit te loop ook al is hulle nie lus om jou te volg nie

    Like

Lewer kommentaar